Partykeer voel dit asof die lewe jou oorweldig en jou hemelse Pa ver is. Vertrou God is gebaseer op die tydlose boodskap van vertroosting uit Psalm 37: “Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg.”
Vroue soos Gretha Wiid, Lynette Beer en Liesel Krause-Wiid neem jou op ’n 52 week lange geestelike reis met dagstukkies wat vir jou hoop en vrede sal gee vir die moeilike dae en al die dae tussenin. God se liefde en trou is aan die werk en wys vir jou die pad na heelheid en vervulling.
Elke dagstukkie het ’n joernaalbladsy vir ’n nuwe manier om stil te raak. Die joernaalbladsy gee jou kans om oor die Woord te dink en te fokus op wat Hy jou wil leer. Dit help jou ook om te sien hoe jy op jou geestelike pad gevorder het.
Dink na oor die boodskap van gister se dagstukkie. Wat het jy geleer? Wat wil God vir jou sê? Skryf die woorde wat in jou gedagtes opkom neer.
Daar is ekstra Bybelverse wat met die vorige dag se stukkie verband hou. Lees elke vers aandagtig en dink oor wat God oor Homself, oor ander mense of oor jou sê.
Ook ingesluit is ’n praktiese vraag of opdrag om oor te besin. Wat kan jy verander of hoe kan jy dinge anders begin doen? Hoe behoort jou lewe van nou af te lyk?
Jy kry die geleentheid om neer te skryf waarvoor jy wil bid. Jou gebedslysie sorg dat jou gebede meer gefokus en georganiseerd word.
Die mooi ontwerp van Vertrou God sal jou aanspoor om stil te raak en maak dit ook ’n kosbare geskenk vir ’n vriendin.
| ISBN |
|---|




